Die Helicon Wildsveiling wat op 12 April 2025 plaasgevind het, het weereens bewys waarom dié veiling ‘n hoogtepunt op die wildsbedryf se kalender is. Met ‘n wye verskeidenheid wildspesies, mededingende pryse en puik gene, het kopers van regoor Suid-Afrika en selfs internasionaal deelgeneem aan die suksesvolle aanlynveiling via SwiftVEE se platform.
Die veiling het uitstekende uitslae gehad met spesiale aandag aan uitsonderlike genetika en familiegroepe. Een van die uitblinkers was die Blesbok Saalrug (M) wat teen R20 000 verkoop is. Dit wys die mark se waardering vir spesiale kleurvariante.
Ander noemenswaardige transaksies sluit in:
- Eland bulle het tot R48 000 gehaal met ‘n gemiddeld van R39 500
- ‘n Njala bul is vir R23 000 verkoop
- Die Swartwitpens bulle het tot R60 000 opgeveil, met ‘n gemiddeld van R44 400, wat die hoë aanvraag vir dié ikoniese spesie bevestig
- ‘n Rooibok swart ram het R23 000 behaal
- Letchwe ramme het gemiddeld teen R18 750 verkoop


Familiegroepe het ook goed gevaar. Die Rooibok familie het met 31 items gemiddeld teen R4 897 verkoop. Die Eland familie se drie lotte het teen R8 000 elk verkoop.
Met ‘n uiteenlopende aanbod wat wissel van Blesbok, Gemsbok en Springbok tot Tsessebe, Waterbuffels en Wildebeeste, het Helicon weer eens sy reputasie bevestig as ‘n toonaangewende verskaffer van geneties diverse en gesonde wild.
Die belangstelling uit internasionale geledere, selfs al was dit in kleiner getalle, onderstreep die potensiaal van Suid-Afrikaanse wildsveilinge op die wêreldmark.
Helicon se wildsveiling van 12 April het opnuut gewys dat deeglike voorbereiding, gefokusde bemarking en kwaliteit genetika die sleutel tot sukses is. Met hul vennootskap met SwiftVEE en doeltreffende aanlyn aanbieding, het hulle nie net wild verkoop nie maar ook vertroue in die mark versterk.

