Aan die oewer van die Vaalrivier, waar swaeltjies hulle neste al vir generasies lank in die kranse bou, lê ’n jagparadys wat sy oorsprong en naam dra uit hierdie ongerepte landskap – Swaelkrans.
Hierdie unieke jagbestemming is nie net ’n plek nie, dis ’n gevoel van erfenis, avontuur en die rustigheid van die vlaktes wat elke gas opnuut betower
Die ontstaan van Swaelkrans se naam
Die storie van Swaelkrans begin letterlik tussen die rotse. “Swaelkrans” ontleen sy naam aan die dramatiese kranse langs die Vaalrivier, waar swaeltjies hulle neste in ’n groot oorhang krans maak. “Hierdie voëltjies nes daar al van Oupa se dae af – en die naam is ’n eerbetoon aan hulle tydlose teenwoordigheid in die besonderse natuurverskynsel,” Org van der Merwe, eienaar van Swaelkrans
’n Passie wat Generasies Terugstrek
Wat as ’n liefde vir jag en natuur in Oupa se dae begin het, het gegroei tot ’n familie-erfenis. Aanvanklik was die plaas net vir familiejag gebruik, tot in 2012 toe die deure vir die publiek oopgemaak is. “Ons het ’n manier gesoek om wildbestuur te doen, maar ook waarde vir dié wild te kry,” sê Org van der Merwe. Van ’n eenvoudige tentjie tot drie volledige jagkampe vandag, het Swaelkrans gegroei sonder om sy hart te verloor – alles bly steeds gefokus op die natuur, die ervaring en om dit lekker te maak vir almal wat kom jag

’n Landskap soos min ander
Wat maak Swaelkrans uniek? Dit begin by die grond onder jou voete. Met spruite wat tot 4 meter diep en 300 meter wyd is, en die rivier wat plek-plek 15 meter diep en 200 meter wyd is, bied Swaelkrans ’n ongelooflike verskeidenheid van landskappe. Van savannevlaktes vol kameeldoringbome tot digte bosveld en selfs oop panne – dis hierdie veelsydigheid wat dit moontlik maak om ’n wye reeks wildspesies aan te hou.
Van Rooibokke en Koedoes tot Springbokke, Blesbokke, Swartwildebeeste en selfs eksotiese spesies soos Sabels, Roan, Lechwes, Elande en Kameelperde – dit is nie ongewoon om iets besonders hier raak te loop nie!

‘n Onvergeetlike ervaring in die natuurskoon
Een van die mooiste oomblikke op Swaelkrans bly die sonsondergang ná ’n dag in die veld. “Al het jy dit al hoeveel keer gesien, dit bly spesiaal,” vertel Org. Maar daar is ook die kleiner, betekenisvolle oomblikke – soos ’n kind wat sy eerste bok skiet, of ’n jagter wat leer van etiese jag en die waarde van bewaring. Die span by Swaelkrans glo daarin om vir hulle gaste en jagters nie net jagervaring te gee nie, maar ook op te voed om respek vir die natuur te kweek.

Meer as net ‘n jagervaring
Vir dié wat iets anders soek of vir die gesin wat saamkom, bied Swaelkrans baie meer as net ‘n jagervaring. Gaste kan hulle lyne ingooi vir Karp of Baber, ’n sonsondergang-vlotvaart op die rivier geniet, of onder die bome piekniek hou. Die Sunset Lounge is geskik vir ’n rustige laatmiddag glasie wyn ná ’n suksesvolle jagdag.

Eerste keer op ‘n jag ekspedisie? Hier’s jou wenk
Org se raad aan eerste keer jagters is eenvoudig maar waardevol: wees voorbereid. Moenie vir die eerste keer in vyf jaar jou geweer optel wanneer jy hier aankom nie. Gaan oefen – nie net op 100 meter nie, maar ook 200–300 meter. Maak seker jy gebruik die regte ammunisie vir die plaas se terrein, en bring behoorlike toerusting. “Ons het al mense gehad wat met plakkies kom jag het – en dit het nie goed geëindig nie.”

Wat lok jagters na Swaelkrans?
Die swartwildebeeste is een van die grootste trekpleisters. “Ons het rêrig besonders mooi bulle wat jy nie sommer op ander plekke kry nie,” sê Org. Dan is daar ook indrukwekkende gemsbokke, blesbokke met besonderse lang horings, en ’n verskeidenheid wild wat maak dat elke jagter iets spesiaals vind.

Hoe lyk ’n tipiese dag op Swaelkrans?
’n Tipiese dag begin voor sonsopkoms – dis die beste tyd om spore te volg en wild raak te sien. Ná die jagdag wag ’n warm vuur, verwelkomdrankies, en aandete met plaasvars bestanddele. Met opsies vir selfversorging of volle etes, is jou ervaring so gemaklik soos jy dit wil hê.

Wat hou die toekoms in?
Swaelkrans se visie is duidelik: om volhoubare jagervaringe aan te bied met puik kliëntediens. Nuwe ontwikkelings sluit ’n reeds bestaande tentekamp teen die rivier in, en ’n nuwe lodge met ’n grasdak gevoel wat 10–12 mense kan akkommodeer – met ’n stoep wat uitkyk oor die rivier. Alles gebou met die oog op rus, natuurbelewing en kwaliteit.

Swaelkrans Hunting Safari is meer as net ’n jagplek – dit is ‘n wegbreuk van die stad se gejaag met ‘n natuurervaring soos min.
Vir meer inligting besoek Swaelkrans se webwerf by https://swaelkranshuntingsafari.co.za/ of kontak hulle by (+27)71-430-7270.