Search

Related

Jagter Tarina van Zyl se hart lê in die bosveld

In die bosveld waar die doringbome skuiling bied en die geelbekneushoring voëls sing, is presies waar wildjagter en Roland Ward-trofeehouer Tarina haarself wil vind, met haar pragtige familie aan haar sy.

Tarina is ’n produkbestuurder in die IT-bedryf en bly al haar lewe lank in die Jakarandastad, Pretoria. Sy het twee pragtige kinders en ’n liefdevolle man wat haar plat op die aarde hou en die spore wat sy trap ondersteun.

Takbok – Ficksburg naby die Lesotho grens in die Vrystaat.

Op die ouderdom van dertig, het Tarina besluit om vir die eerste keer ’n geweer op te tel en te jag. Sy vertel: “Dit was iets waarvoor my man ’n groot liefde het en ek het gedink om dit te probeer. As ek daarvan hou is dit iets wat ons saam kan doen.” ’n Rooibokooi was die resultaat van hierdie besluit. “Met my eerste bok was ek met bloed gesmeer, maar my man het my darem nie die lewer laat eet nie. Intussen het ek al die moed bymekaar geskraap om wel die lewer te eet.”

Tarina noem: “Jag is my groot passie en tydverdryf wat ek saam my man en kinders doen. My dogter van 12 het al self nege bokke van agt verskillende spesies gejag. Dit is vir my so lekker en ’n groot eer om hulle deel van die jagervaring te maak. Ons leer vir hulle die waardes wat ’n mens moet hê om jag eerbiedig te doen. Ek skiet ook vir liefdadigheid, waar ons vleis skenk aan kinderhuise. Ons as gesin is ook mal oor wildsvleis, en kook graag ń lekker wildsboud waar mense hul vingers af eet!”. As jag nie op die lys is vir die dag nie, verken die gesin die bosveld deur rond te ry, teikenkompetisies met ’n windbuks te hou en lekker stories langs die bosveldvuur te vertel met ’n malvalekker of twee vir die kinders. “Wat vir my belangrik is, is om tyd vir mekaar te maak. In vandag se gejaagde lewe moet mens stil staan en tyd maak vir mekaar. Die bosveld lok my ook om as gesin kwaliteit tyd saam te spandeer,” sê Tarina.

Tarina se dogter Mieke, is trots op haar kolskoot. Aan beide kante van Tarina is haar seun Andru en haar man André.

’n Ware liefhebber van jag

“Ek geniet dit om as jagter deel van en in die natuur te wees. Om die bok te vind en om die regte skootplasing te kry is propvol adrenalien. As ek my bok geskiet het, het ek altyd eers ’n minuut se stilte uit dankbaarheid vir die geleentheid.” Sover jag Tarina twee tot drie keer per jaar en het al in Gauteng, Mpumalanga, Vrystaat, Noord-Kaap, Limpopo en ook in Namibië die bos binnegegaan.

Tarina se hoogtepunt van jag was die dag wat sy haar Rowland Ward Barbary skaap in die Noord-Kaap berge gaan najaag het. “Die terrein self was baie moeilik – swartklip waarop jou skoene net gly, Swarthaakdoringbome wat jou stukkend sny deur jou klere. Dit was in die somer, so dit was warm en jy drink sommer water uit strome wat jy verbygaan. Ek het toe wel die geleentheid gekry om een te skiet ná baie bloed en sweet. Toe begin die volgende bietjie pret: om die Barbary uit daardie berge te kry. Dit self het meer as ’n uur gevat. Die beloning was so groot. Ek het ’n trofee geskiet wat al die sweet die moeite werd gemaak het.” Die Rowland Ward kriteria vir ’n Barbary is 26-duim, waarvan die Barbary wat Tarina geskiet het 32-duim was – ’n merkwaardige trofee.

’n Droom van Tarina is om eendag ’n buffel te skiet. Die gevaarlike wildsaspek van hierdie Groot Vyf dier lok die jagter, omdat die ervaring uniek is.

Scimitar – Barkly-Wes, Noord-Kaap.

Vrouens mag ook jag

Tarina deel graag haar insette vir vrouens wat wil probeer jag, maar dalk huiwerig is. “As jy voel jy stel daarin belang, neem die eerste stap en boek ’n jaguitstappie saam met iemand wat die ervaring vir jou sal lekker maak. Pronk Hunting Safaris se wonderlike span kan ek verseker voorstel om die ervaring vir jou baie aangenaam te maak. Jy kan ook die vuurwapen by hulle huur, sou jy nie een tot jou beskikking het nie.

Die hele span is net aangename mense met baie goeie kennis van eksotiese en gewone wild. Jy kan jou jaguitstappie saam hulle beplan, en etes en verblyf word gewoonlik saam met jou pakket uitgewerk.” ’n Alomvattende geleentheid wat al jou behoeftes dek en die bekommernis van die onbekende uitwis. Tarina sê verder: “Die boservaring is net fantasties. Dit bring kalmte en vrede oor jou in die gejaagde lewe van ons. Jy kan net afskakel en een word met die natuur.”

Swartwitpens – Barkly-Wes, Noord-Kaap.

Met alles wat hierdie lewe kan bied, sal jy verseker vir Tarina in die bosveld vind. Haar hart klop khaki en sy verkies ’n lekker koffie by die kampvuur bo ’n ketel in die stad.

Share the Post:

Search

Related