Nuwe navorsing, die eerste wat na Covid-19 oor die onderwerp gedoen is, toon dat die jagbedryf aansienlik bydra tot Suid-Afrika se ekonomie.
Die jagbedryf, wat plaaslike biltongjagters en buitelandse trofeejagters insluit, dra volgens prof Peet van der Merwe en dr Andrea Saayman van Noordwes Universiteit, jaarliks ‘n tamaaie $2,5 miljard (sowat R44 miljard) tot die land se ekonomie by.
Die navorsing toon aan dat elke buitelandse jagter gemiddeld $27 170 (R478 000) per jagtog in hier bestee, terwyl biltongjagters gemiddeld $3 594 (R63 300) tydens die jagseisoen bestee.
Die jagbedryf het boonop ‘n waardevermenigvuldigingsfaktor van 2,97, wat beteken elke dollar wat bestee word dra ‘n verdere $1,97 tot die ekonomie by. Veral landbou, handel, verblyf en persoonlike dienste baat hierby.
Private wildbedryf
Volgens die navorsers beslaan private wildreservate sowat 20 miljoen hektaar waarop meer as 20 miljoen wilde diere voorkom. Dit is tot vier keer meer as die wild wat in al die staat se 19 nasionale parke en 100 provinsiale natuurreservate/parke voorkom.
Suid-Afrika se wildbedryf staan op vier bene, naamlik handel in lewendige diere wat koop en verkoop insluit; jag deur plaaslike en internasionale jagters; ekotoerisme wat wildlewe-ervarings of fotografie-safari’s insluit, en handel in geprosesseerde wildprodukte, soos vleis, velle en horings. Jag is by verre die winsgewendste.
Jagbedryf
Biltongjagters
Vir plaaslike biltong- of vleisjagters is jag deel van die Afrikanerkultuur. Wild word gejag vir die vleis wat gewoonlik vir eie gebruik verwerk word in biltong, droëwors of salami.
Trofeejagters
Internasionale trofeejagters jag stel meer belang in buitengewone mooi, groot diere met groot horings of ivoor, of ‘n treffende velpatroon wat tuis spoggerig ten toon gestel word. Hulle word gewoonlik vergesel deur ‘n beroepsjagter, een van die talle werksgeleenthede wat die jagbedryf bied.
Jag is nie net ‘n kulturele ding nie, dit is ook van groot ekonomiese en ekologiese waarde. Buiten biltongjagters, word ook vir die pot gejag of met die doel om die vleis, trofeë en jaggeleenthede vir finansiële gewin te bemark. Die ekologiese waarde lê daarin dat boere hulle grond en wild volhoubaar bestuur.
Die navorsing het getoon dat die jagbedryf wat met COVID-19 ‘n knou gekry het en verliese van tot R6,7 miljard gely het, teruggebons het en sterker staan as ooit tevore.
Bevindings
Die eerste bevinding van die navorsing is dat jagtoerisme ‘n aansienlik bydrae tot die SA ekonomie lewer. Jag stimuleer produksie, huishoudelike inkomste en werkverskaffing in al die verskillende sektore, maar veral in landbou en diensverskaffing.
Sou enigiets jag belemmer of aan bande lê, kan dit daartoe lei dat al die sektore ly; indien jagtoerisme toegelaat word om te floreer, kan die sektore net positief beïnvloed.
Landelike gebiede baat
Die middel-inkomstegroep, maar veral agtergeblewe, arm landelike gemeenskappe baat die meeste by die jagbedryf en maak staat op werkgeleenthede, ‘n bron van inkomste, wat armoede help verlig.
Werkverskaffing vir ongeskoolde arbeid
Die bedryf is arbeidsintensief en verskaf werk aan werkers met vaardighede en kennis, soos genoemde beroepsjagters, spoorsnyers en slagters, maar veral ook grotendeels ongeskoolde arbeid soos plaaswerkers, skoonmakers en instandhoudingspersoneel. ‘n Afname in jag kan hierdie kwesbare segment van ‘n werk, inkomste en heenkome beroof.
Sektore afhanklik van jag
Landbou, handel, verblyf en persoonlike dienste is afhanklik van jag en toerisme.
Die Suid-Afrikaanse regering speel ‘n belangrike rol in die beleidsontwikkeling rakende grondgebruik, bewaringswetgewing en jagregulasies. As jagtoerisme nie ondersteun word nie, kan dit uiters negatiewe gevolge vir die land se ekonomie inhou.
Bevoordeel natuurbewaring
Jagtoerisme dra ook by tot bewaring van wildlewe omdat boere geld bestee en hulle wild so bestuur dat die bedryf volhoubaar en winsgewend is.
Die jagbedryf dra daartoe by dat boere grond wild hervestig word op plase waar voorheen met gewasse of vee geboer is. As die jagbedryf vir watter rede ook al vou en boere moet terugkeer na konvensionele boerdery sal die wildlewe en bewaring daarvan beslis daaronder ly.
Bronverwysing
Van der Merwe, P., Saayman, A. (2025) Assessing the contributions of hunting tourism to the South African economy: a post-covid analysis. Wildlife Research 52, WR24192.



