In die hartjie van die Suid-Afrikaanse Bosveld lê ‘n juweel vir mense wat uit die stad wil ontsnap en die Bosveld beleef soos dit deur ons voorouers beleef is. Berchtesgaden bied ‘n unieke aanslag waar erfenis en avontuur saam kuier soos ou vriende om ‘n knetterende kampvuur.
Die lodge bied gaste ‘n opsie van vier luukse kamers wat toegerus is met al die moderne luukshede, maar tog ook ‘n ou-wêreldse gevoel het. Daar is ook ‘n wittebrood-suite vir paartjies wat pas die knoop vasgemaak het, of net ‘n romantiese naweek weg van die geraas van die stad af nodig het.
Vir die wat meer avontuurlustig is en smag na ‘n nabye ervaring met die natuur, is daar drie safari-tente wat ook met al die nodige geriewe toegerus is.
Berchtesgaden-wildsplaas is ‘n jagtersparadys. Of jy vir biltong wil jag of jy jou volgende trofee wil skiet, Berchtesgaden sal jou nie teleurstel nie. Die verskeidenheid wildspesies sluit rooibokke, blouwildebeeste, Kaapse elande, koedoes, blesbokke, gemsbokke, sebras, kameelperde, vlakvarke, bosvarke, njalas, jakkalse, bobbejane en tarentale in.
Indien jy groter wild soos buffels of swartwitpense wil jag, is die naaste plaas waar Johannes Kleinhans, eienaar van Berchtesgaden, ‘n konsessie vir hierdie spesies het slegs vyf minute van die plaas af. “Ons verwerk en verpak die vleis vir die jagters, en stuur dit dan terug na die stad waar die jagter dit kan oplaai,” verduidelik Johannes.
Buiten die wildsplaas beskik Berchtesgaden ook oor ‘n leefstylplaas met ‘n ten volle toegeruste gastehuis wat agt mense kan huisves. Hier kan oud en jonk die plaaslewe eerstehands ervaar deur soggens vroeg op te staan om koeie te melk, eiers uit te haal, hanslammers melk te gee, en ‘n draai te maak by die varkhokke waar die Europese bosvarke en landrasvarke die kinders kan vermaak.
Om te ontsnap van die Bosveld-hitte, is daar ‘n swembad by sowel die lodge as die leefstylplaas.
Daar word ook perderitte en donkiekarritte aangebied op die leefstylplaas, en besoekers wat in die lodge op die wildsplaas woon, kan op ‘n uitstappie na die leefstylplaas gaan om aan die pret deel te neem.
Johannes Kleinhans besit en bestuur Berchtesgaden vanaf 2018. “Ons gee graag vir mense ‘n unieke ervaring waar Bosveldavontuur en plaaslewe saamkom. Ons kry veral baie goeie terugvoer van mense wat die kinders ‘n plaaservaring wil gee en hulle ‘n bietjie voor die skerms wil wegkry. As jy in die gastehuis op die leefstylplaas bly, sal jy soggens ‘n liter plaasvars melk en ses eiers kry,” vertel Johannes.
Om jou volgende jagtog of vakansie te bespreek, of om meer uit te vind oor die geriewe en bedrywighede wat Berchtesgaden bied, kontak Johannes by (+27) 83-250-7989 of stuur vir hom ‘n e-pos na info@berchtesgaden.co.za, of besoek hulle webtuiste by www.berchtesgaden.co.za.

Foto 1: Berchtesgaden bied luukse verblyf in die vorm van hulle chalets en safaritente op die wildsplaas, of die gastehuis op die leefstylplaas. Dit is perfek toegerus vir ‘n ontspanne naweek in die Bosveld, weg van die stad se gedruis.

Foto 2: Op die leefstylplaas word Trixie soggens gemelk en gaste word bederf met ‘n liter heerlike vars plaasmelk en ses eiers wat elke dag uit die hoenderhokke gehaal word.

Foto 3: Kameelperde is maar net een van die talle spesies wat op Berchtesgaden beskikbaar is vir jagters.



